Aan die tiener wat wil inpas

‘Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.’ – Efesiërs 5:1-2

My naam is Katrina, en ek gee te veel om wat mense van my dink.

Soms is ek soos ‘n verkleurmannetjie. ‘n Baie sondige, onderduimse verkleurmannetjie. Watter geselskap ek my ook in bevind, ek sal my persoonlikheid en my kleredrag en my gespreksonderwerpe probeer aanpas sodat die mense rondom my van my hou. Ek sal lieg en bedrieg en dinge sê wat nooit gesê moes geword het nie, alles sodat ek kan inpas.

En terwyl ek dit doen is daar altyd die vreeslike twyfel. Hou mense van my? Is ek goed genoeg? Wat dink hulle van my?

Dit is groepsdruk, sê die geleerde mense, en dit is algemeen onder tieners. Dit is hoekom baie tieners rook en drink en swanger raak en partytjie hou. Hulle vriende doen dit, en omdat hulle om lewenswil tog net nie uit wil wees nie, doen hulle maar mee.

Miskien kan jy, in ‘n meerdere of ‘n mindere mate, identifiseer met die prentjie wat ek hier bo geskep het. Miskien doen jy ook soms dinge wat jy weet eintlik verkeerd is, omdat jou vriende dit doen. Miskien is dit op ‘n intensiewe vlak, soos dagga rook of te veel drink. Miskien op ‘n minder intensiewe vlak, soos om jou spraak en jou kleredrag aan te pas by jou vriende s’n. Miskien is daar in jou kop ook, elke keer as jy iemand sien, net een gedagte:

Wat dink hy of sy van my?

Indien wel, vriend, het ek ‘n paar dinge wat ek graag vir jou wil sê.

Ek wil graag sê dat jy my volste simpatie het.

Dit is menslik om aanvaarding en harmonie te soek. Ons wil graag weet dat ons iemand anders se goedkeuring wegdra. Dit is troosryk om te weet dat jou gedrag iemand tevrede stel.

Die probleem kom egter in as ons daardie aanvaarding op die verkeerde plek soek.

Die rede hoekom ons aanvaarding soek, die rede hoekom dit altyd voel asof ons nie inpas nie, is nie omdat ons ‘n vriendegroep en ‘n paar Nike-tekkies kort nie. Jy gaan nooit, maak nie saak hoe lank jy probeer nie, die aanvaarding en troos wat jy wil hê by ‘n mens kry nie. Nie by jou vriende nie, nie by jou meisie of kêrel nie, nie by jou ma of jou pa nie.

Die enigste plek waar jy dit gaan kry is by Jesus Christus.

Ons is geskep om God te behaag, nie mense nie.

Ons is geskep om voor sy aangesig te wandel en goed te wees in sy oë. Ons is geskep om met Hom in harmonie te leef, en nie om aanvaarding by ons medemens te soek nie.

Buite Jesus, is ons vir altyd in ‘n plek vasgevang waar ons enigste troos in lewe in sterwe dít is wat ons deur gehoorsaamheid aan groepsdruk kan verdien. Dit is ‘n verskriklike plek om te wees.

Jy sien, die probleem met mense is dat jy nooit regtig kan weet wat hulle van jou dink nie. Jy kan nooit met sekerheid sê of iemand regtig van jou hou, of jou regtig aanvaar nie.

Met die Here het jy nie daardie probleem nie.

As jy in Jesus glo, dan weet jy wat God van jou dink. Jy hoef nooit weer te wonder of jy aanvaarbaar is nie. Jy weet, deur die kosbare bloed van Jesus Christus, is jy ‘n geliefde kind van die Almagtige God. Selfs al sondig jy, dan weet jy dat die Here jou tugtig omdat Hy jou liefhet.

Ek weet nie van jou nie, vriend, maar dit gee my geweldige troos.

In Jesus kan ek sê:

My naam is Katrina, en ek vind nie meer my identiteit in wat mense van my dink nie, maar in wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het.


Oor die Skrywer:


Katrina van Oostrum is 20 en sy is ‘n gebore en getoë Pretorianer. Sy is ‘n Christen, en haar droom is om boeke te skryf wat die Here se naam verheerlik en mense laat dink. Wanneer sy nie skryf nie hou sy daarvan om te lees, oefening te kry en kos te maak. Verder hou sy van flou grappe, Latyn en Groot Glase Koue Water.