Daaglikse Huisgodsdiens – Dr FN Lee

1. Daaglikse huisgodsdiens vanaf Adam tot by Noag

Voor die skepping van die heelal, het elke Persoon van God Drie-enig – Vader, Seun, en Gees – mekaar vanaf alle ewigheid geprys. Later, toe Hulle ons aarde se lug en sy wolke en sy berge geformeer het, het die skeppende Vader en Sy alwyse Seun in die gemeenskap van Hul Heilige Gees daagliks saam gejubel. Joh. 17:5-24 en Heb. 9:14 vgl. Gen. 1:1-5 en Spr. 8:30-34.

Sodoende het dié drie Persone binne God Drie-enig ook ’n voorbeeld gestel vir Hul Eie latere drie-enige beeld – die eerste menslike gesin, bestaande uit man en vrou en kind(ers). Gen. 1:26v. en 4:3-26 vgl. Spr. 8:12-34. Dit is inderdaad ’n voorbeeld van die daaglikse aanbidding wat ook al die nakomelinge van dié eerste menslike gesin behoort te volg – ook nadat hulle self in die huwelik sou tree en hul eie huishoudings sou oprig. Gen. 2:23-25 en Jakobus 3:8v.

Ook die ordes van die geskape engele het gedurende die aarde se formasieweek elke oggend vir die Here geprys. Dalk was ook dit bedoel om ’n voorbeeld aan die eerste menslike gesin te stel, en inderdaad ook vir alle daaropvolgende gesinne van die mensdom. Job 38:4-13 vgl. 1:4-6 en Ef. 3:15 en Kol. 1:16.

Hoe dit ook al sy, voor die sondeval van die mens sien ons gereelde menslike huisgodsdiensoefeninge, blykbaar sowel in die oggend (vgl. Gen. 2:21-25) asook in die aand (vgl. Gen. 1:28-31 en 2:1-3). Dié is vanaf die mens se formering gehandhaaf, ook na sy sondeval, en selfs tot anderkant die sondvloed. Vgl. Gen. 1:26-31, 3:8v, 4:26, 5:22-26, 6:9v, 9:1v. So ook, blykbaar, wat weeklikse sabbatsaanbidding betref. Vgl. Gen. 2:1-3, 4:3v, 7:4-11, 8:6-12, 8:18-22.

Veral die Westminsterse Geloofsbelydenis van die sewentiende-eeuse Puriteine leer dit. Want Adam het almal van die Tien Gebooie geken (WGB 19:1-2), insluitende ook die tweede en die vierde en die vyfde en die sewende. Dié gebooie verg dat “alle mense” (nes hul eerste voorouers Adam en Eva) gereelde “gebed met danksegging” as deel van hul vereiste “Godsaanbidding” moes onderneem. Vgl. ook WGB. 21:3.

Gesamentlik verg die Tien Gebooie ook dat die Drie-enige “God orals… in private huisgesinne daagliks aanbid moet word.” WGB 21:6. Hulle verg inderdaad dat volgens “die Wet van die Natuur… ’n sekere tydgedeelte vir die aanbidding van God geheilig word”, en veral dat “een dag uit sewe as ’n sabbat… vanaf die begin van die wêreld vir Hom geheilig word.” Sien WGB 21:7.

*          *          *          *          *          *          *

Volgens proff. drr. Martin Luther en Johannes Calvyn, die groot Puritein John Milton, die Westminsterse Geloofbelydenis, drr. John Owen en Andrew Murray Jr., proff. drr. Abraham Kuyper Sr. en Herman Bavinck – het Adam en Eva, voor die sondeval, saam huisgodsdiens gehou. Dit sou hulle dan gedoen het: deur hul Heer elke dag te prys, deur daagliks na God se Woord te luister, en deur daagliks tot God-Drie-enig te bid. Dit sou hulle inderdaad veral ook by wyse van weeklikse sabbatsaanbidding gedoen het. Vgl. WGB 21:1-7 – en, op “suprahistoriese”(?!) wyse, selfs Karl Barth.

Hierdie daaglikse huisgodsdienste, en veral die mens se gesamentlike en weeklikse aanbidding op mekaaropvolgende sabbatte, sou blykbaar self na die sondeval van ons eerste voorouers voortgeduur het. Dié voortduur was moontlik, deels op grond van die onuitwisbare aard van die mens se “natuurlike” oergodsdiens vóór die sondeval, maar hoofsaaklik op grond van God se onmiddellike oprigting van die genadeverbond met Adam en sy toenemende gesin juis na die sondeval.

Spore van sulke oerhuisgodsdiens kan inderdaad in die heilige verhale duidelik gesien word. Dit geld vir Kain en Abel, Set en Enos, Henog die Setiet, en die gesin van Noag.

Adam en Eva het voor die sondeval vir God daagliks saam aanbid. Vgl. Gen. 1:27v en 2:1-3 en 2:21-25. Aldus Luther, Calvyn, Milton, die Westminsterse Geloofsbelydenis, Owen, Andrew Murray, Kuyper, en Bavinck.

Te meer. Adam en Eva gaan voort met dié huisgodsdiens, selfs ná die sondeval. Vgl. Gen. 3:8v,15v,21. Aldus Calvyn, Westminster, en Owen. Sulke daaglikse huisgodsdiens was ook bo en behalwe hulle daaglikse persoonlike godsdiensoefeninge.

Veral Calvyn het daarop aangedring dat Adam gereeld godsdiensonderrig aan sy kinders gegee het terwyl hulle grootgeword het (vgl. Gen. 4:2v). Ook Set en ander Godvresende kinders van Adam en Eva, ook nadat hulle volwassenes geword het, het gereeld met huisgodsdiensoefeninge in hul eie huis aangehou (vgl. Gen. 4:25v). Inderdaad, in die dae van Set se seun Henog, selfs gereelde vergaderings van verskillende gesinne wat dikwels saam as ’n gemeente aanbid het – is minstens weekliks gehou. Vgl. Gen. 4:26.

Prof. Johannes Calvyn, dr. John Owen en Eerw. Charles Haddon Spurgeon het almal implisiet dog korrek tot die gevolgtrekking gekom dat selfs te midde van groot afvalligheid, minstens die huishouding van Henog die Setiet (’n later afstammeling van Enos die seun van Set) hul eie daaglikse huisgodsdiens nog altyd voortgesit het. Want Henog het voor sy seuns en sy dogters “met God gewandel”  en glo ook “al die dae van sy lewe” so gemaak. Gen. 5:22v. Dit het blykbaar ook sy kleinseun Lameg die Setiet gedoen. Gen. 5:28-31. Ook dié Lameg se seun Noag “het met God gewandel.” En daar word later ook genoem dat hy saam met sy vrou en sy seuns en hul vrouens binne-in die ark vir God aanbid het. Gen. 6:9v.

Dit het hulle gedoen terwyl die ark gebou is (en ook daarna) blykbaar elke dag van hul lewens en sekerlik op elke sabbatdag. Sien Gen. 7:1-11 en 8:6-12 en 8:14-22. Volgens Spurgeon sou hulle ook vir minstens ’n hele ruk lank ná die sondvloed daarmee aangehou het. Gen. 1:26v vgl. 6:9v en 9:1-11.

Gevolglik is die gesin van Noag ook ná die sondvloed weer eens beveel om ook die gebooie van die oorspronklike skeppingsverbond met Adam en sy huisgesin te hou. Alle mense wat vandag lewe, het van sowel Adam asook Noag afgestam. So rus daar ’n universele verpligting op alle mense om tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis daaglikse huisgodsdiens asook weeklikse gemeentegodsdiens te hou. Dit sal inderdaad “al die dae van die aarde… dag en nag nie ophou nie.” Gen. 8:18-22 en 9:13-19v.

2. Daaglikse Huisgodsdiens vanaf Sem tot by Maleági

Selfs na die Noagitiese sondvloed en die latere vernietiging van die toring van Babel, het huisgodsdiens in die gesinne van Noag en die van minstens twee van sy drie seuns voortgeduur – op dieselfde wyse as wat dit by hulle ook vóór die sondvloed gebeur het. Sien: Gen. 6:9v, 7:1-11, 8:6-12, 8:18-22, 9:1-11, 9:18-29.

Dié praktyk het veral voortgeduur in die huislike asook in die kerklike kringe van die vroeë afstammelinge van Sem en Jafet – wat die “geseënde… Here God” gedien het. Want ook Jafet het toe gaan woon “in die tente” van Sem. Gen. 9:26f. En vanuit die geskiedenis ook in latere eeue, sou dit blyk dat huisgodsdiens veral in die tuistes van die Jafetiete sou voortduur. Sien Hand. 10:1-2v.

Dit blyk ook die geval te wees in die “tente” van die latere Semiet Job, asook dié van sy sewe volwasse seuns en sy drie volwasse dogters. Job 1:1-5 vgl. WGB 21:6. Dit is waar dat huisgodsdiens inderdaad afgeneem het onder sekere ander huishoudings – maar nié onder dié van die salige Job nie.

Die gedagtenis aan die mense se oeroue paradystoestand, het by Job bly voortlewe. Ook so die herinneringe van die ware verhale dat ook die goeie engele vir God vroegoggend op elkeen van die dae van die aarde se formasieweek (en steeds daarna) geprys het. Ook so die begrip van die mens se sewedaagse week, en sy weeklikse aanbiddings veral op die heilige sabbatdag van die week. Job 1:5v, 2:1-13, 26:13 tot 27:3, 31:33, 33:4-6, 38:4-7 en 42:8.

Daaglikse en veral weeklikse dade van huisgodsdiens was veral in die gesinslewe van Job ooglopend. Aldus: Cyprianus, Cyrillus, Calvyn, Matthew Henry, die Westminsterse Geloofsbelydenis (21:6), prof. dr. F. Delitzsch, en prof dr. Bavinck se bondgenoot dr. W.B. Renkema. Volgens Delitzsch het sulke daaglikse huisgodsdiens blykbaar tot aan die einde van Job se aarde lewe van meer as 200 jaar voortgeduur – namate hy daagliks tuis met en vir sy afstammelinge en sy vriende aanbid het totdat hy “oud en afgeleef” sterwe. Job 42:8-17.

In die hooflyn van die Messiaanse verbond, is gereelde huisgodsdiens veral prominent in die tuistes van Abraham, Isak, Jakob en Josef. By Gen. 14:13v en 18:18v kan gesien word hoedat Abraham sy huisgesin oor God en Sy Wet geleer het. Aldus veral Calvyn, Matthew Henry, en dr. Andrew Murray.

Ook Isak en sy huisgesin was mense wat gereeld gebid het. Gen. 25:20-23 en 26:4-25. Jakob en sy huisgesin het by hul eie huisaltaar aanbid. Gen. 35:1-14. En ook Josef het sy eie agterkleinkinders se kindertjies op sy eie knieë help grootmaak. Sien Gen. 48:1v. vgl. 50:23.

In Ex. 10:2, het God vir Moses beveel om godsdiensonderrig aan albei sy kinders asook aan sy kleinkinders te gee. Aldus Tertullianus. Sowel Calvyn as Andrew Murray het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ’n Hebreeuse vader ook tydens die Paasfees sy eie seuns moes onderrig. Ex. 12:26v.

Veral die tweede, vierde en vyfde Gebooie van die Dekaloog – en implisiet ook die sewende – voorveronderstel gereelde huisgodsdiens. Aldus: Tertullianus, Ciprianus, Luther, Calvyn, die WGB (hoofstukke 19 en 21), die Westminsterse Groter Kategismus (Vrae en AA. 108-27), Alexander Smith Paterson in sy boek Theology of the Shorter Catechism, en ook prof. dr. Willem Geesink in sy tweebandige Gereformeerde Ethiek (en ander werke).

Chrysostomus het Num. 11:12 as betekenisvol vir huisgodsdiens beskou. Proff. drr. Keil en Delitzsch het dieselfde gesê aangaande Num. 28:3-8 [vgl. Heb. 13:4-15v]. Dit is baie duidelik dat ook Deut. 4:8-11 relevant is, en veral ook die vereisde oggend- en aandhuisgodsdiensoefeninge wat by Deut. 6:6-9 en 6:20-25 genoem word. Aldus: die Apostoliese Konstitusies, Athanasius, Chrysostomus, Luther, Calvyn, die WGB 21:6, en dr. Andrew Murray. Ook Deut. 11:18-27 en 32:7 (aldus Luther en Calvyn) slaan o.a. op huisgodsdiens.

*          *          *          *          *          *          *

’n Verdere baie beroemde voorbeeld van gereelde huisgodsdiens word by Josua (24:15) aangetref. Aldus: Calvyn, Matthew Henry, en Andrew Murray. Dieselfde geld vir Simson se ouers (Rigt. 13) – en ook vir Elkana, Hanna en Samuel. Inderdaad, juis die afbreuk van huisgodsdiens was een van die hoofredes vir die vernietiging van die priester Eli en sy seuns. Een Samuel hoofstukke 1 tot 4. Aldus so ook Hiëronymus en Chrysostomus.

Dawid het gereelde aanbidding bevorder: in die heiligdom, dwarsdeur sy koninkryk, onder sy onderdane in hul tuistes, en ook in sy eie huisgesin. Twee Samuel 6:12v. Aldus: Calvyn, die WGB 21:6, Alexander Fletcher, en Henry/Gill/Pink. Dawid self het met huisgodsdiens grootgeword. As volwassene het hy dit beoefen, en oor by ander aanbeveel. Ps. 1:2v., 22:9v., 37:25-27, 45:15-17, 118:15, 119:147v., en 133:1v. Aldus: Calvyn, Matthew Henry, en Spurgeon.

Dawid self het drie keer daagliks gebid (Ps. 55:17). So behoort ook ons te maak. Aldus Basilius en Calvyn. Inderdaad, alle vlees moet by die Hoorder van die gebed uitkom. Ps. 65:1, vgl. WGB 21:3. Godsdiensonderrig tuis moet van die een geslag na die ander oorgedra word. So Ps. 78:1-8, volgens Irenaeus en Calvyn. Inderdaad, gereelde huisgodsdiens is een van die opperste seëninge wat ons kan geniet. So: Ps 127:1v en 128:3v – volgens Justinus die Martelaar;, die Apostoliese Konstitusies, Hiëronymus, Luther, en Spurgeon.

Veral die Bybelboek Spreuke (1:8v. en 3:33 en 4:1v. en 8:30-34 ens.) is ryk – en ook vir ons onderwerp relevant. Aldus die Apostoliese Konstitusies en dr. Matthew Henry. Calvyn het Spreuke 20:7 as pertinent raakgesien. Baie word deur Spreuke 22:6 beïndruk. En Gregorius Nazianzus het Spreuke 31 beskou as ’n baie goeie beskrywing van die huis waarin hy self grootgeword het.

Dit is duidelik dat Jesaja 44:1-5 en 59:19-21 ter sake is. So ook Jesaja 46:3v in sy 270 v.C. Griekse vertaling in die Septuaginta, naamlik: “vanaf die baarmoeder gedra, en tot in die gryse ouderdom opgevoed.” Jeraja 10:25 weer laai ’n geïnspireerde vervloeking op dié gesinne wat die Here nié aanbid nie. Aldus: Calvyn, die WGB 21, en dr. Matthew Henry.

Ook Esegiël 16:2v. is van dieselfde aard. Dog Esegiël 43:27 (vgl. Heb. 13:4-15v.) voorspel groot seëninge d.m.v. die huisaltaar onder die Nuwe Testament. Aldus Paterson.

Daniël (6:10 vgl. 9:3) het driekeer daagliks gebid. Aldus Calvyn en dr. Matthew Henry. En ook Joël (1:3 en 2:16-28 vgl. Hand. 2:16-38v.) is vol positiewe huisgodsdiensseëninge.

Die Bybelboek Sagaria (5:3-5 en 12:1-14) noem weë vir dié wat dié seën nie toeëien nie. Dit bemoedig ook elke gesin om saam met sy huishouding vir sy eie sondes te rou – afgeskei van andere gesinne. Aldus: Calvyn, Matthew Henry, en Spurgeon.

Die Ou Testament eindig met die Bybelboek Maleági (1:6-11, 2:14v., 3:5-15v., en 4:2-6). Dit voorspel die koms van die Messiaanse tyd, waartydens alle volkere orals daagliks vir die Here ook met hul huisgodsdiensbeoefeninge sou aanbid. Aldus Calvyn, die WGB 21:6, en dr. Matthew Henry.

3. Daaglikse Huisgodsdiens ten tyde van die Nuwe Testament

Omtrent 40 n.C. het die Grieks-sprekende Judaïs Philo nogal bruikbare insigte gegee. In daardie tyd, verduidelik hy, is selfs gehelleniseerde “Jode vanaf hulle luiers… daartoe opgelei om God as hul Vader te erken.”

Iets soortgelyks kry mens ook by die Joodse geskiedkundige Josefus, in 90 n.C. Hy voeg by dat Hebreeuse kinders “vanaf hul vroegste bewussyn die wette” van die Here geleer het.

Die beroemde Hebreeus-Christelike navorser eerw. dr. Alfred Edersheim beklemtoon dat vanaf die middel van die eerste eeu v.C., feitlik elke Hebreeuse gesin (hoe arm ook), ’n kopie van sommige van die Heilige Skrifte besit het. Dit is feitlik seker dat daaglikse huisgodsdiens, insluitende ook voorlesings vanuit dié Skrifte, in die huise van Sagarias-Elisabet-Johannes (die Doper) en Josef-Maria-Jesus (die Redder) getrou beoefen is. Sien: Matt. 1 en 2 en Luk. 1 en 2.

In Matt. 6:11 vgl. Luk. 11:3, het Jesus Self Sy dissipels en hul huisgesinne geleer om God daagliks te aanbid – ja, selfs toe hulle “Gee ons vandag ons daaglikse brood!” gebid het. Aldus: die Didaché, Tertullianus, Chrysostomus, Augustinus, Calvyn, die WBG 21:6, Thomas Watson, Alexander Smith Paterson, en dr. Matthew Henry.

Augustinus beskou Matt.7:11 in dieselfde lig. Vroeër beskou selfs Origenes vir Christus se bediening aan verbondskindertjies as gewigtig. Matt.18:1v. en 21:15 vgl. Ps. 8:3v.

Luther beskou Matt.25:35 en Luk. 23:28 as van belang. Andere weer beskou die “huishoudingstekste” (Matt.13:52 en 24:45 en Luk. 12:42) as hier betekenisvol.

Juis die Groot Sendingopdrag verg die beoefening van gereelde huisgodsdiens. Want die feit dat “nasies” volgens Matt.28:19 gedoop moet word – vereis noodsaaklik dat ook die “lammertjies” by Joh. 21:15 gevoed moet word. Aldus dr. Andrew Murray.

Hand. 2:38v. verduidelik dat die Evangeliebeloftes nie alleen aan die gelowiges nie maar ook aan hul kinders toekom. Wat meer is, ook Hand. 2:46 het nie op die gebruik van óf die Sakrament van die Doop óf die Sakrament van die Nagmaal betrekking nie – maar wel op spontane huislike gasvryheid en gereelde huisgodsdiens (aldus Calvyn). Inderdaad, dit word onderstreep ook deur Hand. 5:46 en 10:2v. en 17:11 (aldus Calvyn), en ook deur Hand. 20:20 (vgl. 1 Kor. 11:22 en 14:34v.).

Hand. 3:1 en 10:3-30v., en moontlik ook 1 Tim. 1:3, suggereer dat daaglikse huisgodsdiens liewers op vasgestelde tye beplan moet word. Inderdaad, veral Hand. 10 (vgl. verse 2 en 4 en 22 en 31 en 33 en 34) gee duidelike bewyse van gereelde huisgodsdiensoefeninge. Aldus Calvyn, die WGB 21:6, en dr. Matthew Henry.

Hand. 10:2-44 bewys ook die doop van huisgesinne. So ook Hand. 16:15, 16:30-33, 18:8v. en 1 Kor. 1:16. Aldus Calvyn en dr. Matthew Henry. Inderdaad, selfs die gevierde Baptis eerw. dr. John R. Rice beklemtoon die feit dat die tronkbewaarder van Filíppi permanente huisgodsdiens laat instel het sodra sy huisgesin gedoop is. Hand. 16:34.

*          *          *          *          *          *          *

Dieselfde konklusies moet ook vanuit die huiskerkgedeeltes in die sestiende hoofstuk van Romeine (vgl. 11:16) getrek word. Aldus dr. Matthew Henry. En, natuurlik, ook veral 1 Kor. 7:14 bespreek die geval van ’n heilige gesin met ’n heilige ouer en ’n heilige kind. Aldus Tertullianus, Chrysostomus, Calvyn, ens.

Ook Ef. 5:14-19v. bespreek huisgodsdiens. Aldus Tertullianus, professor J.H. Merle d’Aubigné, en wyle eerw. dr. James Montgomery Boice. Nog duideliker, dit is ook by Ef. 6:1-4 die geval. Aldus die Didaché, Tertullianus, Clemens van Alexandrië, die Apostoliese Konstitusies, Gregorius Nazianzus, Chrysostomus en dr. Matthew Henry.

Minder duidelik, geld dit ook vanuit Ef. 6:18 se woorde dat “julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (vgl. ook 1:1-5). Kommentarieer dr. Thomas Watson: “Dit is die kinders van die huisgesin.” Dieselfde geld ook baie duidelik wat betref die parallelle perikoop in Kol. 3:16-21 (vgl. 4:21). Aldus: Clemens van Alexandrië, Cyrilllus, Chrysostomus, en Calvyn.

Huisgodsdiens in die tuistes van Paulus en Timotheus, terwyl hulle grootgeword het, word duidelik aangedui in 1 Tim. 1:3-5 en 3:14-17. Aldus Clemens van Alexandrië, Hiëronimus, Chrysostomus, en veral Calvyn. Eerw. dr. J.R. Rice vind gesinsgebede by maaltye ook in 1 Tim. 4:3-5. En ook in 1 Tim. 2:8, sien die WGB (21:6) blykbaar hoedat vaders in die gesinsgebede tuis die leiding neem.

In 1 Tim. 2:15 (vgl. 5:5-10 en 5:14 en Tit. 2:3-5) sien Chrysostomus hoedat vrouens hul eie kinders onderrig (en ook ander vrouens onderrig om self so te maak). Inderdaad, niemand mag as ouderling of as diaken gekies word nie, tensy hy self gereelde huisgodsdiens tuis beoefen. 1 Tim. 3:1-12 en Tit. 1:5-11. Want hy wat ’n kerklike amp beklee, moet ook ander aanmoedig om daaglikse huisgodiens tuis te beoefen. Hand. 5:46 en 20:20-28 en Tit. 1:11v. en 1 Pet. 5:1-4 ens. Aldus: Hiëronimus, Chrysostomus, Augustinus, Calvyn en Matthew Henry.

In 1 Tim. 1:3-5 en 3:14-16 sien nie alleen Calvyn en Matthew Henry nie maar ook die Baptis Charles Haddon Spurgeon gereelde huisgodsdiens selfs van kindsbeen af. Calvyn en Matthew Henry sien dieselfde ook by Titus 1:6v. en 2:3v. Inderdaad, dieselfde word ook geïmpliseer by lg. verse se parallelle perikoop in 1 Timoteus 5:8-14. So suggereer selfs Filipense 2v. gereelde huisgodsdiens. Aldus Matthew Henry en Charles Haddon Spurgeon.

By Heb. 3:13 (vgl. 3:3), word Christene beveel: “Vermaan mekaar elke dag.” By 5:12v., sien Calvyn gereelde katkisering van verbondskinders namate hulle grootword. So ook by 13:4 en 13:15v., val die klem blykbaar weer eens op gereelde huisgodsdiens

Petrus se Eerste Sendbrief (1:23v. en 2:2v. en 3:1-7 en 3:20v.) leer gereelde huisgodsdiens baie duidelik. Aldus: Origenes, Hiëronymus, Augustinus, Calvyn, die Westminsterse Geloofsbelydenis (21:6), Matthew Henry, en Charles Haddon Spurgeon. 1 Joh. 2:12-14 doen blykbaar dieselfde. So ook 2 Joh. 1-4, na die mening van dr. Matthew Henry – en 3 Joh. 4, na die mening van dr. Charles Haddon Spurgeon. So ook – óf op positiewe óf op negatiewe wyse – doen selfs die Openbaring van Johannes (te 2:20-23 en 12:5-17).

Ook op negatiewe wyse, het ons gesê. Want sowel in die Ou asook in die Nuwe Testament, blyk dat dit rampspoedig is om huisgodsdiens nié te handhaaf nie. Vergelyk maar net: Ex. 20:4-12, Deut. 12:28-32, Jer. 10:25, Sag. 5:3-5, en Op. 2:20-23. Maar ook op positiewe wyse word veelvuldige seëninge belowe aan die wat daaglikse huisgodsdiens beoefen. Vergelyk: Deut. 6:6-9v., Matt.6:9,33, Hand. 10:2v., en 1 Pet. 3:7.

4. My eie persoonlike getuienis oor die krag van daaglikse huisgodsdiens

George Jameson, my eie oupa-grootjie, my oorgrootvader, was ’n baie vurige prediker. Na sy tragiese dood het sy kinders (insluitende my ouma Elizabeth Jameson Lee) egter van die Here weggedrywe. So ook haar eie kinders, insluitende my vader, William Sydney Lee. Dit het dus gebeur dat my eie vader, William Sydney Lee, sonder die Bybel grootgemaak is – en later met ’n Rooms-Katoliek, Alice Maud Smith, getrou het. Ek is hul enigste kind. Ook ek is sonder die Bybel grootgemaak – tot op sewejarige leeftyd as Room-Katoliek (toe ek en my moeder van die Kerk weggedryf het), en daarná as ateïs.

Baie jare later het die dogter van my ouma Elizabeth Jameson Lee ’n Christen geword en haar eie moeder na die Here gelei. Dié moeder, my ouma, het later by my ouers kom intrek toe ek self omtrent dertien jaar oud was. Later het ek self ’n Christen geword. Toe het ek en my ouma elke dag na haar slaapkamer gegaan, en daar die Bybel saamgelees en vir die bekering van my ouers gebid. My ouma het nie lank genoeg gelewe om dit te sien gebeur nie. Maar ná haar dood is al haar gebede uiteindelik positief verhoor.

Op God se voorafbepaalde tyd, en terwyl ek nog in my ouers se eie huis gewoon het, het ek die groot vreugde gehad om beide my vader en my moeder na Christus te lei. Die huisaltaar van daaglikse huisgodsdiens – wat sedert die dood van my oupa-grootjie George Jameson in 1923 afgebreek is – is toe ook in my ouers se huis weer opgerig. Vgl. Mal. 4:4-6 en Luk. 1:16v.

Ek het toe my vrou Nellie ontmoet, wat deur Christenouers op ’n plaas grootgemaak is wat daaglikse huisgodsdiens beoefen het. Ons is in 1963 op Vanrhynsdorp getroud. Sedert ons huwelik het ons soggens en saans daaglikse huisgodsdiens in ons huis beoefen. Elke keer toe ek oorsee gegaan het om lesings te gee en/of te preek, het Nellie die daaglikse huisgodsdiens saam met ons kinders tuis getrou waargeneem, totdat ek teruggekeer en die leierskap daarvan weer eens oorgeneem het.

Oor die algemeen lees ons elke oggend uit die Ou Testament, en elke aand uit die Nuwe Testament. So, sedert die ontvangenis van ons twee kinders Johanna en Annamarie, selfs voor hul geboortes, het nie een enkele dag verbygegaan wanneer dié kinders nie self soggens en saans aan dié daaglikse huisgodsdiens deelgeneem het nie – vir solank as wat hulle onder ons dak gewoon het, en selfs vandag elke keer as hulle by ons kom kuier. Ps. 22:9v., 139:7-17, Luk. 1:36-45, Rom. 11:16, 1 Kor. 7:14.

Feitlik sedert hulle gebore, het ons kinders elkeen hul eie Bybel en hul eie Psalmboek en hul eie kategismusboekies besit – en selfs by die daaglikse huisgodsdiens gebruik. Vgl. 1 Tim. 1:3-5.

Hulle het nie ’n sogenaamde “Kinderbybel” nie maar die Bybel self as hul heel eerste boek leer lees, lank voordat hulle begin het om skool toe te gaan. 1 Tim. 3:14-16v. So gou as wat hulle kon, is hulle met huisgodsdiens gevra om een vers hardop uit God se Woord te lees. Vgl. Matt.21:16.

So dan, oor die jare, het elke lid van ons gesin een vers elk voor die ander hardop voorgelees – elke oggend, en elke aand. Jes. 8:20 vgl. 28:13. Dit is natuurlike bo en behalwe ’n kort gesinsgebed voor elke maaltyd (1 Tim. 4:3-5), en ook bo en behalwe sy of haar eie persoonlike godsdiensoefeninge wanneer elkeen alleen is (Matt.6:6).

Op dié manier, sedert die aankoms van die laaste byvoeging tot die gesin – is die ganse Bybel gedurende huisgodsdiens gedek. Dit is nogal heeldiep en in chronologiese volgorde deur al die jare gedoen. Vgl. Op. 1:3 en 22:17-19.

*          *          *          *          *          *          *

Hier volg nou ’n tipiese oggendhuisgodsdiensoefening – na ontbyt, en voordat van die huis af vertrek word. Die vader bid ’n baie kort openingsgebed. Vgl. Ps. 119:107. Die hele gesin sing dan ’n klein gedeelte van een van die psalms saam. Ps. 147:1. Die vader lees dan een vers van die Skrif hardop – gewoonlik vanuit die Ou Testament. Vgl. Luk. 24:27v.,44v. Die ander gesinslede maak dan ook so, in volgorde. Vgl. Matt.19:4v. en Luk. 1:1-4.

Die vader verduidelik dan die voorgelese paar verse. Vgl. 2 Pet. 3:16. Elke gesinslid sê dan watter nuwe ding hy of sy geleer het. Vgl. Hand. 8:30-36. Indien die voorgelese perikopie van die Bybel te diepsinnig is, word slegs een vers – of selfs slegs een gedeelte van een vers – by daardie geleentheid verduidelik. Vgl. Matt.5:18. Die gesin kniel dan saam neer. Vgl. Ps. 95:6. Die vader vra dan een van hulle om kortliks te bid – nl., vir die gesin se spesiale benodighede van dié dag. Vgl. Neh. 1:11 ens.

In die aand, onmiddellik na aandete, word ’n dergelike patroon gevolg. Deut. 6:6v. vgl. Ps. 55:17. Nou kan die aanbidding egter langer duur – aangesien daar nou geen nood is om vanuit die huis gou skool toe of werk toe te moet haas nie. Vgl. Ps. 1:2 en Hand. 17:11 ens.

Die enigste verskille by die aandpatroon, is soos volg. Die voorlees is gewoonlik nou uit die Nuwe en nie uit die Ou Testament nie. Joh. 16:13v. vgl. 2 Pet. 1:13-16 en 3:15v. Die gesonge gedeeltes is vanuit ’n Skriftuurlike Gesang of ’n Parafrase van die Skrif, en nie vanuit ’n Psalm nie. Ef. 5:18-25 en 6:1-4 en Kol. 3:16-21. [Ons Doppers verskil hier van Dr Lee en bly eerder by die Psalmboek – redakteur] Daarby, na die verduideliking van die voorgelese Skrifgedeelte – word een vraag en een antwoord uit die Korter Kategismus [of die Kort Begrip] voorgehou, verduidelik en dan hardop gesamentlik opgesê. Vgl. Spr. 22:6 en 1 Tim. 6:12v.

*          *          *          *          *          *          *

Dit (lof, skriflesing, gebed) is die patroon van ons eie daaglikse huisgodsdiens. Lof – want “’n stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges.” Ps. 118:15. Skriflesing, want dié wat Christus “edelmoediger” gemaak het, moet “die Woord met alle welwillendheid ontvang” en “elke dag die Skrifte ondersoek.” Hand. 17:11. En gebed, want “vaders, voed julle kinders op in die tug en vermaning van die Here… , terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees!” Ef. 6:4,18.

5. Voorstelle hoe om met huisgodsdiens ’n begin te maak

Dit kan wel so wees dat u tot dusver dié geseënde praktyk van daaglikse huisgodsdiens nooit geniet het nie – maar dat u nou besef dat God u nou daartoe dring om ’n begin daaraan te maak. In dié geval mag dit wel so wees dat die volgende voorstelle u kan help om ’n begin te maak. Onthou dat slegs ’n bietjie elke dag heelwat beter is as baie wat slegs een keer weekliks op Sondae gedoen word!

Sonder om “metodisties” te wil klink, wil ek laastens ’n paar metodes voorstel wat diegene kan help wat nou met daaglikse huisgodsdiens wil begin. Dit is en bly maar slegs voorstelle, maar ek glo dat die implementering daarvan (of van iets dergeliks) tot ryke seën vir enige huisgesin sal wees.

Eerstens, kry vir u die volgende drie boeke (verkieslik met kopieë vir elke lid van u gesin, hoe jonk ook al): 1, die Heilige Bybel (verkieslik die 1933 Afrikaanse Hersiene Uitgawe), 2, die Psalmboek (’n vertaling en beryming van die 150 Psalms van Dawid saam met geskikte wysies), 3, die Kort Begrip van die Heidelbergse Kategismus óf die Westminsterse Korter Kategismus (verkieslik ’n uitgawe wat ook die Bybelse bewysverse aantoon), en ’n goeie gesangebundel vol singbare Skrifberymings en Bybelgetroue gesange.

Tweedens, sorg dat u gesin nie te laat gaan slaap nie – verkieslik voor tienuur of hoogstens half-elf of elfuur snags.

Derdens, stel u wekker vir die volgende oggend sowat ’n kwartier vroeër as in die verlede.

*          *          *          *          *          *          *

Dan, vroeg op die volgende dag:

  1. A. Kry u gesin uit die kooi sowat vyftien minute vroeër as waaraan u gewoond was.
  2. Onmiddellik na’n gesamentlike ontbyt, en moontlik ook voordat u die tafel verlaat, maak dat die gesinshoof na ’n baie kort gebed om verligting slegs een vers vanuit die Bybel hardop voorlees. Ons stel voor, uit Gen. 1:1.
  3. Die gesinshoof moet dan elke lid van die gesin op sy of haar beurt vra wat hy of sy pas geleer het. Elkeen moet slegs vir hom- of vir haarself daarop antwoord, maar dan wel voor die res van die gesin.
  4. Die gesinshoof moet dan aan elke gesinslid’n Psalm- of Gesangeboek gee. Daar word voorgestel dat slegs die eerste koeplet van Ps. 1 deur almal gesing word.
  5. Die gesinshoof moet dan vir die hele huishouding bid, nl. dat God juis op daardie dag vir elkeen in Sy diens sal gebruik (of’n ander gesinslid vra om so te bid.)

*          *          *          *          *          *          *

In die aand kan die volgende daaglikse patroon dalk nuttig wees om ’n begin te maak met die inskerping van die beoefening van huisgodsdiens.

  1. B. Bedien aandete sowat vyftien minute vroeër as in die verlede, óf in plaas daarvan verleng maar die duur van die huisgodsdiens saam onmiddellik daarna.
  2. Onmiddellik nadat die aandete saam geniet is, en moontlik voordat die tafel verlaat word, moet die gesinshoof’n kort gebed om verligting doen en dan maar slegs een vers uit die Bybel hardop voorlees. Joh. 1:1 word voorgestel.
  3. Die gesinshoof moet dan elke lid van die gesin beurtelings vra wat hy of sy sopas geleer het. Elkeen moet self en vir sigself voor die res van die huisgesin antwoord gee.
  4. Die gesinshoof moet dan aan elke lid van die gesin’n Psalm- of Gesangboek gee. Ons stel voor dat slegs een stansa van ’n bekende wysie deur elkeen gesing word.
  5. Die gesinshoof moet dan die eerste vraag vanuit dieKort Begrip van die Heidelbergse Kategismus of die Westminsterse Korter Kategismus aan een van die gesinslede stel. Die gesinshoof moet die betekenis van die vraag verduidelik. Wanneer die antwoord korrek opgegee is, moet hy die betekenis van die antwoord verduidelik. Daarna moet die hele gesin gevra word om die korrekte antwoord saam hardop uit te spreek.
  6. Die gesinshoof moet dan elke lid van die gesin vra wat hy of sy dié dag vir die Here gedoen het. Hy moet dan die Here bedank (of’n ander lid vra om dit te doen) dat God elkeen van hulle gebruik het en vir Hom vra dat hulle dié nag ’n soete slaap vergun mag word sodat hulle elkeen Hom ook op die volgende dag kan dien.

*          *          *          *          *          *          *

  1. C.Die volgende oggend moet A net soos hierbo gevolg word, met vervanging van Gen. 1:2 in plaas van Gen. 1:1 en Ps. 2 in plaas van Ps. 1.
  2. D.In die aand moet B net soos hierbo gevolg word, dog met die vervanging van Joh. 1:2 in plaas van Joh. 1:1, met vervanging van Gesang 2 in plaas van Gesang 1, en met die vervanging van Vraag en Antwoord 2 van die Kort Begrip of die Kategismus in plaas van 1.
  3. E.Op die derde dag, moet soortgelyke aanpassings soos by C en D hierbo gedoen word – en so ook wat betref die vierde en elke daaropvolgende dag.

*          *          *          *          *          *          *

In Eksodus 36:3, lees ons dat God se kinders “elke môre vrywillige offergawes gebring” het. Hier merk eerw. dr. Matthew Henry tereg in sy beroemde Kommentaar op die Heilige Bybel: “Ons moet altyd sorg dat ons elke oggend ons offerandes aan die Here bring, en selfs die geestelike offerandes van gebed en lofsegging met ’n gebroke hart bring wat geheel en al aan God oorgegee word. Dit is elke dag ons plig. ‘Sy barmhartighede het geen einde nie, hulle is elke môre nuut’ [Kla. 3:22v.]. So moet ook ons offerandes – ons vrywillige offerandes – wees!”

Andermaal dr. Matthew Henry, op Num. 29:1-11 (waar geleer word dat die nuwejaarsverpligtinge dié van die nuwemaan[de] en ook die daaglikse offerandes nie vervang nie maar veel eerder juis aanvul): “Die [nuwejaars]offerandes wat gebring moes word” – so verduidelik dr. Henry – “word hier in die besonder aangemerk. Daar is gesorg dat hulle die nuwemaan[d]offers en die daaglikse offers nie vervang nie. Hiermee word te kenne gegee dat ons nie verskoning moet soek om ’n goeie plig te ontduik nie, maar eerder vir ons moet verheug in die geleentheid om meer as ons gewone godsdienspligte te doen. As ons huisgodsdiens nakom, moet ons nie meen dat dit ons van ons persoonlike godsdiensoefeninge sal verskoon nie. En op dié dae wanneer ons kerktoe gaan – moet ons nog altyd die Here aanbid as ons alleen is, en óók as huisgesinne saam… ‘Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here!’”

Mutatis mutandis geld dieselfde ook elke aand. Inderdaad, Daniël se grootste gebed is juis op die tyd van die aandoffer vir die Here aangebied. Daniël 9:3-21 (vgl. 6:10-13).

Weer eens lewer eerw. dr. Matthew Henry komentaar: “Die altaar was vernietig, en daar was geen offerande wat daarop geoffer is nie. Maar dit blyk dat toegewyde Jode ook gedurende hul ballingskap daagliks gedagtig was aan die tyd wanneer dit geoffer moes gewees het. En op daardie uur was hulle gereed… Hulle het begeer en vertrou dat hul gebed soos wierook voor God uitgestal sou word, en dat die oplig van… hul harte… in Sy oë net so aanvaarbaar as die aandoffer self sou wees.”

Want selfs Adam en Eva het soggens en saans saam aanbid. Gen. 2:22v. en 3:8v. Ook Job se gesin het die Here al die dae soggens vroeg aanbid. Job 1:5. Abraham, die vader van alle gelowiges, het sy huishouding gedurig beveel om “die weg van die Here” te hou. Gen. 18:18v. vgl. 14:13v. met Rom. 4:11 en Gal. 3:6-8 en 3:16-18 en 3:27-29. Moses het huisgodsdiens soggens en saans van die ganse bondsvolk van God vereis. Deut. 6:7v. En ook Josua (24:15) en Dawid (2 Sam. 6:14-20) het op soortgelyke wyse opgetree.

Inderdaad, die besige Dawid het tyd gemaak om die Here drie keer daagliks te aanbid – en om sy hande in die gebed veral by die aandoffer te verhef. Ps. 55:17 en 141:2. Bang vir God se vervloeking van dié gesinne wat Hom nié aanbid nie (Jer. 10:25), het die toegewyde Kornelius vir God altyd met sy ganse huisgesin en sy huishouding op vaste tye aanbid. Hand. 10:2v. vgl. 10:30. Inderdaad, Jesus Self – in Matt.6:11 en Luk. 11:3 – het al Sy dissipels leer bid: “Onse Vader Wat in die hemele is! … Gee ons vandag ons daaglikse brood!”

Mag ons– met ons ganse huisgesin – dieselfde doen! Kom, laat ons ons gesinne daagliks in ons huise katkiseer! Kom, laat ons ’n begin maak, en daarna ook voortgaan, om die Here by huisgodsdiens te aanbid – met lofliedere, gebede en die voorlees van God se Woord – soggens en saans, elke dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *