Hoe berei ek voor vir die rusdag?

Maak die rusdag jou prioriteit

Elke gelowige wat die rusdag ’n prioriteit maak, berei voor vir die rusdag.  Mens berei immers voor vir iets waarna mens uitsien!  As jy uitsien na jou seevakansie, dan maak jy immers seker jou verblyf is betyds bespreek, die motor word nagegaan en gediens, jy tref voorsorg vir finansies, ens.

So is dit immers ook met die rusdag.

As dit vir jou ’n hoë prioriteit is, dan gaan jy voorberei daarvoor.

Gewoonlik sluit voorbereiding vir die rusdag dinge soos volg in:

  • Ek probeer sover moontlik my kuiers Vrydagaande reël of so dat dit Saterdae nie te laat klaar maak nie
  • Ek lees die tekste waaruit die prediking gaan kom voor die tyd
  • Ek gaan slaap vroeg op ’n Saterdagaand, sodat ek vars is as ek Sondag opstaan
  • Ek sorg dat die kinders se klere min of meer reg is, sodat Sondag nie ’n geharwar is om klere in die hande te kry nie
  • Doen voorbidding vir die erediens en dat die Here ons harte sal berei

Ekstra voorbereiding met die Covid-19 uitbraak

Vir komende Sondag is daar egter ekstra voorbereidings om te tref, aangesien meeste van ons vanweë die Covid-19 uitbraak, die uitsending op internet sal volg.  Kry dus nou reeds die volgende dinge in plek:

  1. Besluit in watter vertrek julle die erediensuitsending gaan volg en kry solank die vertrek reg. Sorg dat daar genoeg stoele is vir elke lid van die gesin.
  2. Maak seker jou internet is reg en dat jy genoeg data beskikbaar het
  3. Maak seker jou klank is reg. Kanse is goed dat jou skootrekenaar of selfoon se klank nie hard genoeg gaan wees nie.  Kry dus ’n luidspreker gereed indien moontlik.
  4. Sit Psalmboeke en Bybels gereed.

Moenie toelaat dat dinge waarvoor jy voorsorg kon tref, jou Sondag 09h00 kniehalter om in te luister nie.  Berei voor vir die rusdag.

Toetsuitsending

Om jou te help om voor te berei vir Sondag, het ons DV Vrydagaand om 19h00 ’n toetsuitsending.  Maak gerus daarvan gebruik om vas te stel watter haakplekke daar nog is met jou internet.

Sondag

Ons eredienste word op die normale tye lewendig uitgesaai op youtube.  Dit is 09h00 en 18h00.  Skakel gerus reeds 10 minute voor die tyd in sodat ons op die uur kan begin.

Indien jou internet jou Sondag, ten spyte van jou voorbereidings, tog in die steek laat vir die lewendige uitsending om 09h00, sal die video van die diens steeds beskikbaar wees direk na afloop van die diens teen ongeveer 10h15 op youtube.  Ons sal ook die klankbaan van die preek teen 11h00 op die w’app kanaal versprei.

 

Mag die HERE ons ’n geseënde rusdag skenk

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *