Geliefde gemeente in ons HERE Jesus Christus,
Nebukadneser beleër Jerusalem (v1-2)
Die verhaal van Daniël begin met die vertelling van die magtige koning Nebukadnesar van die Babel wat die hoofstad van die Israeliete, Jerusalem, beleër het. Dit het gebeur in die jaar 605 v.C. (2627 jaar gelede).
Hy het die stad oorwin, en die stad ingegaan en gevat uit die stad wat hy wou. Hy neem nie hulle koning nie. Jojakim bly aan as koning, maar sonder werklike mag – hy staan nou onder die juk van Babel.
Maar, hy neem wel ’n getal gevange (ballinge) en ook ’n groot deel van die tempelskatte.
Vertroue op die tempel (Jer. 7)
Jeremia het in die laaste jare voor die ballingskap geprofeteer in Jerusalem. En hy het hulle gewaarsku dat hulle nie op bedrieglike woorde (leuen) moet vertrou nie, in Jer. 7:
Vertrou nie op die bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit...
Sien die volk het vertrou op die tempel. Hulle het gedink die tempel maak hulle immuun teen ’n vyandige inval.
Hulle sou gesê het:
- Solank ons die tempel het, is ons veilig
- Dink jy die Here sal toelaat dat Sy tempel verwoes word? Nooit nie!
- Sodra die tempel bedreig word, sal die HERE intree en ons beskerm!
Deurdat hulle dit geglo het, het hulle voortgegaan met sonde. Die volk steel, pleeg moord, lewe immoreel, pleeg owerspel, egbreuk. Is besig met afgodery. En dan aanbid hulle die HERE in die tempel! En dan sê hulle: Ons is verlos!
Hulle het gedink, hulle kan lewe soos hulle wil, die tempel red hulle.
Maar, die tempel sou hulle nie red nie.
Die tempel is leeggemaak van al die tempelskatte en geneem na ’n afgodstempel. Met hierdie dinge wys die Here dat Hy nie sonde duld nie. Om op die tempel te vertrou, is geen vervanging van bekering van sondes nie.
Die HERE sou hulle verlos het, as hulle hul tot Hom gedraai het.
Jer. 7:5-7 Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;
vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie—
dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.
God is soewerein
God regeer, of daar ’n tempel is of nie. Hy bly God, maak nie saak wat gebeur op die aarde nie. Om die waarheid te sê, die dinge op die aarde gebeur want Hy is God.
V2 en die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy hand gegee... (met ’n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God...)
God is in beheer van die geskiedenis en heeltemal in staat om sy waarskuwings uit te voer.
Die
- Oorwonne stad
- Beskadigde tempel
- Die weggevoerde skatte
- Die wenende gevangenes en die wat hulle agterlaat
Is alles Sy werk, vir die voortgang van Sy Raad.
Die volk Israel het nederlaag, ondergang, vernietiging beleef.
Hy bly egter die onoorwonne God van hemel en aarde. Wat in en deur al hierdie gebeure werk.
Oekraïne
Ons kan nie anders nie, as om dit te bely oor die nagmerrie wat aan die gang is in die Oekraïne nie.
Uit Psalm 2 wil ek julle aan die volgende herinner:
- Die Oekraïne behoort aan Jesus Christus. Hy is die Koning van die Oekraïne.
- Alle volke behoort aan Hom
- Hy sal wraak neem. Geen verkeerde daad ontgaan Hom nie. Ook maghebbers – God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog
- Koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome, Hy lei dit waarheen Hy wil
- Ander belangriker oorlog aan die gang – die stryd tussen lig en duisternis. Ander koninkryk. Koninkryk van God. En, ons hoor berigte van groot gains. Mense in die oorloggeteisterde gebiede wat hulle tot Jesus Christus bekeer. Ook in ons eie lewens. Ons is gedwing om vir mekaar te sê: Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins
o Ek het dit nodig gevind om weer met my kinders te praat oor die dood.
- Ons almal wens vir ’n groot sterk held wat magtige manne sal regsien en vrede bewerk. Daardie Held is Hy van wie ons sing in Psalm 45
Gord aan die wapens tot die stryd! O Held, U glans en majesteit! oorwinnend ry na die geveg! vir waarheid ootmoed hoogste reg!
Jesus is daardie Held.
Hy sal eenmaal ook op ’n oorlogsperd ry met ’n swaard en oorlog voer. Die oorlog wat ’n einde sal bring aan alle oorloë.
Hy van wie die Engele gesing het:
Eer aan God in die hoogste hemele! Vrede op aarde in die mens ’n welbehae!
- En, dan weet ons dat God ons nie waarborg dat swaarkry en ellende ons nie sal tref nie. Maar, dat Hy in dit met ons sal wees. Ons nooit sal verlaat nie en ons nie bo ons vermoë sal beproef nie.
En laastens, dat daar ’n baie groter oordeel kom as die oorlog wat in die Oekraïne woed. En dit is die oordeel van God op die laaste dag, met die wederkoms van Jesus Christus.
En al wat ek vir jou kan verkondig: Bekeer jou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Bekeer jou weg van jou sonde en neem jou toevlug tot Jesus Christus alleen!
Die vier mannetjies (v3-7)
Nebukadneser was briljant. Hy maak nie die fout van die Farao nie. Hy het die Israeliete in Egipte onderdruk en slawediens laat verrig. Daar is altyd die risiko dat sulke mense dan tot opstand sal kom.
Nee, Nebukadneser is slimmer.
Babilon neem die wêreld in. Spoedig sal diegene wat oorwin is, meer wees as die wat hulle oorwin het. Dit sal militêr eenvoudig nie moontlik wees om ’n onderdrukkende regime te handhaaf deur die hele bekende wêreld van daardie tyd nie. Daar is eenvoudig te veel mense wat jy dan moet onderdruk en te min soldate om dit te doen. So.
Nebukadneser kry ’n ander manier om almal aan hom onderhorig te hou.
Hy neem die room van elke volk wat hy oorwin het, en assimileer (maak hulle deel) van die Babiloniese burgerlike owerheid. Op hierdie manier word die verre lande wat hy ingeneem het, effektief regeer deur mense wat van daardie land af kom. Indien daar dus later van daardie lande in opstand wil kom teen Babel, sou hulle dan effektief teen hulle eie volksgenote in opstand gekom het (teen hulle eie seuns!).
Dis ook die metodiek wat Nebukadneser volg met sy inname van Juda. Daarom beveel hy die hoof van sy hofdienaars (hoof van die burgerdiens) om die beste van Juda se jeug te neem, en hulle in posisies van verantwoordelikheid te plaas. Hulle moet deel word van sy koninklike diens en groeiende burgerlike administrasie.
Aspenas moet vir die regte kandidate soek uit die koninklike familie en van die volk se adel.
Vereistes
- Jong seuns
- Sonder liggaamsgebrek
- Mooi
- Slim
- Intelligent in al die wetenskappe
Vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap
Hulle moes bekwaam wees om in die paleis van Nebukadneser te dien. Hy soek immers net die beste.
Opleiding
Maar, nadat hulle gekies is, sou hierdie outjies moes dan ook nuwe omvattende opleiding ondergaan. Hierdie opleiding so in effek ook so bietjie ’n heropvoeding wees (re-education).
In hierdie opleiding sou hulle spesifiek aandag gee aan die taal en literatuur van die Babiloniërs.
Niks moes hulle aandag aftrek van hulle studies nie. Vir die volgende drie jaar sou hulle, by die taal en literatuur, ook nog klasse hê in wiskunde, wetenskap, navigasiekunde, politieke wetenskap, geskiedenis, aardrykskunde, ens. Hulle sou ’n grondige kennis in die Babiloniese kennis ondergaan.
Maar, hulle sou nie nodig hê om te bekommer oor kos en drinkgoed nie.
As ’n ernstige student sy eie kos moet maak, dan belemmer dit sy akademiese prestasie. Maar vir die studente was dit alles gereël. Hulle hoef nie om te gesien het na hulle eie etes nie. Hulle sou van die koning se kos kry.
Hulle moes vergeet dat hulle Jode is en moes Babiloniërs word. Hulle moet vergeet van die God van Israel, en die dienaars van die aardse koning word.
Naamsveranderinge
Dit was Babiloniese beleid om die seuns wat gekies was vir die spesiale opleiding, dat hulle name verander moes word.
- Daniël (God het gerig) ----------- Beltsasar (Beskermer van die skatte van Bel)
- Hananja (Die HERE is genadig ------ Sadrag. (weet nie wat beteken nie, maar die naam heidense god Marduk.
- Misael (wie is soos God) ----- Mesag (Bevat die naam van vroeëre weergawe van afgod Venus)
- Asarja (Die HERE het gehelp) --- Abednego (Dienskneg van Nebo).
Vier oorspronklike name het of ’n el (God) of ’n ja (HERE).
Hierdie name word verander deur die Babiloniërs na name wat hulle gode in het (Bel, Marduk, Venus, Nebo).
Hulle sou maar tieners wees. (Babilonië het tipies hierdie opleiding begin op 14 jarige ouderdom).
Vir drie jaar sou hulle die heidense opleiding kry.
Stel jou in hulle skoene
Kom ons dink ons in hulle skoene in:
Gesteel van hulle ouerhuise, aangesê om hulle God te vergeet, hulle is verander, hulle volk te vergeet, hulle identiteit prys te gee, ondergaan intensiewe opleiding in heidense kultuur. Hoe sou hierdie jong seuns vaar? Sou hulle getrou bly? Doen wat reg is? Of sou hulle toegee?
Sou hulle hul identiteit as kinders van God prysgee?
Die HERE Jesus as jong seun
Hierdie laat dink mens aan die enkele insident waarvan ons lees van Jesus in sy kinderjare. Hy was nie 14 nie, hy was maar 12 jaar oud.
En ons lees in Luk. 2 hoe Hy in Jerusalem agtergebly het. Hulle vind Hom in die tempel terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Om gehoor hte, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.
Hulle skop vas (v8-16)
Die volk het eindelik in ballingskap gegaan a.g.v. hulle sonde. Een baie spesifieke oortreding was die van afgodery.
Nou hulle het vasgeskop oor die kos. Ons lees niks van die ander name nie, of selfs die studies nie. Maar die kos. Hoekom was dit vir Daniël ’n probleem?
Die kos wat van die koning se tafel afgekom het, was eers aan afgode geoffer voor dit bedien was. Elke Babiloniese koninklike ete het begin met ’n daad van heidense aanbidding. Hulle was baie stiptelik, soos in baie huisgesinne voor ete ons bid.
Niks is geëet of gedrink voor dit aan afgode gewy is nie. Die wat dit sou eet, is gereken as deelnemers aan die aanbidding van afgode.
Nou hulle wou hulle nie skuldig maak aan afgodery nie. En daarom wou hulle geensins deel hê daaraan nie.
Daniël kon sy lewe verloor
Omdat hy nie die koning se kos wou eet nie. Dit was baie gevaarlik! Maar, Daniël wil getrou wees aan die God van Israel.
Daniël vra vergunning
Die tiener Daniël voel sterk oor die saak.
Maar, hy tree steeds hoflik en uit respek op.
Die taal wat hier gebruik is, is baie versigtig:
Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.
Hy gaan na die amptenaar en stel sy punt. Hoewel hy ferm en beginselvas is, maar is steeds ordentlik as hy die vergunning versoek.
Ons kan baie hieruit leer wanneer iemand in gesagsposisie van ons verwag om iets te doen. Ons kan ferm wees, maar tog op ’n wyse van die erkenning van gesag en met respek daarvoor.
Die HERE Jesus se reaksie ten opsigte van sy ouers
Sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek!
Jesus: Waarom het U my gesoek? Het U dan nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?
(v50 En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie).
V51 En Hy het saam met hulle gegaan en in Nasaret gekom, en Hy was hulle onderdanig.
En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
V52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.
God verleen guns in moeilike omstandighede
God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.
Hier moet ons bemoedig word. Ons kan ons kwalik in meer onbenydenswaardige posisie indink as Daniël: Weg van sy land, met geen hoop om ooit weer terug te keer nie. as jong seun sy identiteit aangeval. ’n Totale heidense wêreld omring. Gaan nooit weer sy ouers sien nie. En nou nog die saak van die geloof.
En daar, in die omstandighede, verleen God guns aan Daniël!
Hier moet ons werklik bemoedig wees. Want mens kan so maklik, as alle omstandighede donker lyk, vergeet dat God ook in donker omstandighede sy guns aan mense bewys!
Die HERE Jesus ontvang guns in die donkerste nag
Mens dink ook aan die HERE Jesus in Sy donkerste nag:
Luk. 22: 42 Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied!
En dan lees ons
V43 En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.
Owerste bang oor sy posisie (en straks sy lewe)!
En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?
M.a.w. die owerste jaag hom nie weg of gooi hom in die tronk nie. Maar, sy antwoord is: nee.
Daniël wend hom tot ’n laer owerste
Daniël wend hom dan tot die bediende wat die owerste oor hulle aangestel het. EN vra hom: Gee ons net ’n tien dag toetslopie. En gee ons net groente en water.
Daniël se voorbeeld is iets vir ons om oor na te dink.
Hy is wys, taktvol, sensitief en vriendelik – maar tog ook ferm.
Die uitslag van die toetslopie
Hulle het nie slegter af gewees as die res nie. Daar was ’n merkbare verbetering aan hulle voorkoms. Voorkoms het beter gelyk en hulle het voller van vlees gelyk as ‘al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het’
Die bediende laat toe dat hulle dan bly op hulle dieet.
Hulle was getrou in ’n klein saak. Die weg is gebaan vir groter dinge vir hulle. Getrou in die klein dinge – getrou in die groot dinge.
Sou Daniël staande kon bly in die leeukuil?
As hy nie hier staande gebly het nie?
En sy vriende by die brandende oond?
Dis omdat hulle getrou was aan God in die klein dinge, dat hulle later getrou kon wees in die groter dinge.
Mense wat in ernstige sondes verval, gebeur omdat hulle gewoond geraak het daaraan om kleiner sonde te verdra.
Gehoorsaam tot die dood toe, ja die dood van die kruis
Filippense lees ons van die HERE Jesus se vernedering:
Fil. 2:6-8 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Die uitkoms
Wat was die uitkoms van hulle dapperheid lees ons van in verse 17-21
Dan 1:17 En hierdie vier jong seuns—God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.
Hierdie seuns het God eerste geplaas in alles wat hulle gedoen het. En God het hulle geëer en gawes in hulle aangewakker.
Hulle sou ook skrandere studente gewees het.
Dit gebeur dikwels. Dat God mense eer wat Hom eerste plaas en hulle gawes in sy diens aanwend.
Gelykenis van die talente – die man wat dit begrawe het, het dit verloor. Maar die manne wat dit gebruik het, het meer gekry.
Hier sien ons dit.
Het jy dit al beleef?
Jy kom agter daar is iets wat die HERE op jou weg plaas om te doen. En jy doen dit met ’n toewyding aan die HERE alleen. En in die proses ontdek jy gawes wat jy nie geweet het jy het nie?
Gawes het na vore getree omdat jy God eerste geplaas het.
Eksamen
En eindelik het die drie jaar kursus geëindig. Tyd vir die finale eksamen.
Vir baie van ons vakke op Potch was die laaste eksamen nie ’n skriftelike een nie, maar ’n mondelinge een. So was dit ook hier.
Die studente moes voor die koning verskyn. Hy sou elkeen persoonlik eksamineer en sy assessering gee. Die uitslag van die eksamen lees ons in verse 19-20:
Dan 1:19 En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die koning gedien.
Dan 1:20 En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.
Hulle was beter as al die ander studente. Maar, dis nie al nie. Hulle was selfs beter as die manne wat lankal reeds gegradueer was, hulle studies lankal voltooi het en nou in posisies van verantwoordelikheid in die Babiloniese ryk gestaan het! Om die waarheid te sê, hulle was tien keer beter!
Die gevolg is dat hierdie vier jong seuns, hulself in hoë posisies bevind het waar hulle hul invloed kon gebruik vir die HERE.
God gee aan hulle die groot verantwoordelikheid omdat hulle gewys het, op ’n basiese vlak, dat – kom wat wil, selfs in persoonlike gevaar – hulle sal die HERE dien!
Soek jy ’n hoër posisie?
Baie mense hunker na hoër posisie waar hulle meer invloed kan hê. As ek net daardie hoë pos kon hê, dink net watter invloed ek kon uitoefen!
Maar, meer invloed gaan jy nie kry as jy nie nou vir die HERE lewe nie. Nou, waar jy nou is. As jy onwillig is om op te staan vir Hom in die kleiner dinge, hoe sal jy ooit die moed hê om dit in die groter dinge te doen?
Is dit moontlik om getrou te wees met baie voordat jy getrou was met min?
As ons nie die klein versoekings kan weerstaan nie, wat gaan gebeur wanneer die versoekings meer intensief word?
Daniël 1 leer ons wat ons in 1 Sam. 2:30 lees:
Die wat My eer, sal Ek eer
Die HERE Jesus se verhoging
... gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Fil. 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Nie voorspoedsteologie nie
Dat jy altyd hoër hoogtes sal bereik omdat jy gehoorsaam is nie. Soms kan jy juis jou werk verloor omdat jy gehoorsaam is aan die HERE. Of dat jy nie bevordering kry nie, juis omdat jy gehoorsaam is.
Maar, wat hierdie gedeelte in Daniël wel uitwys, is dat daar in die verbond, God gehoorsaamheid beloon. En dis wat ons hier sien in Daniël 1.
Ons seuns
Broer en suster,
Sal ons seuns op 14 sulke dinge kan doen? Berei ons hulle reg voor? Wie weet wat vir ons voorlê. Hoe leer jy nou jou kinders?
Is daar enige dapperheid in ons oor?
Mag God Daniël se voorbeeld gebruik om ons seuns dapper te maak.
Amen
コメント