Geliefde gemeente in ons Here Jesus Christus,
Daar is drie dele aan hierdie hoofstuk:
i) V1-2 lees ons van ’n ontdekking wat Daniël gemaak het.
ii) Grootste deel van die hfst.: verse 3-19
iii) Derde deel verse 20-27: ’n Groot openbaring
Ons sal nie vanoggend tyd kry vir die derde deel nie.
Daniël se ontdekking
In verse 1-2 lees ons daarvan. Om sy ontdekking te verstaan, moet ons net weer dink aan die gebeure van hfst. 1. Dit was die jaar 605 v.C. Nebukadneser van Babel het Jerusalem ingeneem. Hy het Daniël, sy vriende en nog ’n groot aantal mense as ballinge na Babel weggevoer.
Die meerderheid van die Israeliete is in intervalle weggevoer na Babel daarna.
Dit was, volgens ons berekeninge, 68 jaar gelede. Daniël was nou in Babel vir amper 70 jaar.
So, in Daniël 9, in die eerste regeringsjaar van Darius die Meder, is Daniël ’n ou man. Hy was 14 toe hy weggevoer is. Hy is nou 82.
Daniël het baie dinge al beleef. Babilon het geval. Die Meders en Perse het die Babelse weermag verslaan. Daniël is nou ’n amptenaar in die regering van die Meders en Perse. Hy het die hoogste posisie in die ryk, naas die koning.
Dis ’n leeftyd sedert hy as jong seun uit Jerusalem weggevoer is. Al herinneringe wat hy het daaraan.
En tog vind ons die Daniël in hierdie hoofstuk: Besig om sy Bybel te lees! Hy lees die profeet Jeremia!
Daniël, die man wat Geesgeïnspireerde drome en visioene ontvang het – lees sy Bybel.
Hy sou as jong seun geweet het van Jeremia, wat toe profeet was. Moontlik dat hy hom in persoon gehoor preek het.
Jeremia se profesieë is opgeteken. En Daniël het dit gelees.
En, terwyl hy lees, lees hy iets besonders raak!
Hy lees dat die ballingskap 70 volle jare sou duur.
Jer. 25:8-11
V8 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadresar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.
Dis presies wat gebeur het. Die Babiloniërs, die geslagte van die Noorde en hulle koning, hét gekom en die banvloek oor hulle gebring.
V10 En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.
Dit is wat gebeur het. Jongmense wat op trou gestaan het, is toe nooit getroud nie, vanweë die ballingskap.
V11 en hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.
Hy sou verder gelees het, en nie lank daarna nie, sou hy lees Jer. 29:10-14
Want so sê die Here, as eers 70 jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.
Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.
Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap laat wegvoer het.
Hier het hy dit weer:
70 jaar, sal Ek op julle ag gee.
Maar let op in hierdie gedeelte, hoe word die belofte van die HERE verbind met gebed:
- Sal Ek op julle ag gee (as hulle vra)
- Dan sal julle my aanroep, en heengaan en tot My roep en tot My bid en Ek sal na julle luister.
- Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
- Ek sal My deur julle laat vind.
Die belofte van God word verbind met gebed!
So, hier sien ons iets raak: Dat God se beloftes nie die kinders van die Here passief moet maak nie. Ons moenie stilsit en passief wees en niks doen terwyl ons wag op die vervulling van die belofte nie.
Daniël het nie so benadering geken nie.
Nee, die belofte van die Here word vir hom die rede om die harde werk van gebed te doen.
En weet u wat leer die geskiedenis?
Binne ’n paar maande hierna, was Darius iets van die verlede. Kores die Pers het die koning geword. En weet u watter skriftelike oproep het hy deur sy hele koninkryk laat gaan? Ons lees dit in Esra 1
Esra 1:1-4 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE—sodat die woord van die HERE uit die mond van Jeremía vervul sou word—die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê:
So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.
Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.
En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef—hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.
God het dit beloof. Daniël het daarvoor gebid. En dit het gebeur.
Ons moet hierdie nie miskyk nie. Die oorsaak van hulle terugkeer was natuurlik Sy belofte. Maar ook die gebede van die volk. God tree op in die geskiedenis, agv sy beloftes. Maar ook die gebede van Sy kinders.
Dis wat dit beteken om te bid volgens God se wil. Die NT praat baie hiervan. Dis eintlik baie eenvoudig. Dis om uit die bladsye van die Bybel vas te stel watter beloftes God gegee het, en daarvoor te bid!
1Jn_5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.
- Het God belowe dat die evangelie sal uitbrei na die einde van die aarde? Hy het! Laat ons dan daarvoor bid!
- Het God beloof dat as Sy Woord uitgaan, dit nie onverrigter sake na Hom sal terugkeer nie? Hy het! Laat ons dan daarvoor bid!
- Het God beloof dat Sy Seun weer sal kom in heerlikheid en mag? Hy het! Laat ons dan ons stemme voeg by Johannes in Openb. 22:20 Amen, ja kom, Here Jesus!
Isa_62:6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie
Daniël se gebed
Daniël se gebed is vir ons opgeteken. Aangrypende gebed. Een van die mees aangrypende gebede wat jy ooit sal lees.
Ons kan nie by die hele gebed stilstaan nie. In navolging van Stuart Olyott se kommentaar, wil ons 5 bestanddele van sy gebed uitwys. En daaruit kan ons baie leer oor gebed!
i) Daniël bid ernstig
V3 Ek het my aangesig tot die HERE gerig om met vas , en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.
Ons weet Daniël het drie maal per dag gebid. Maar hier maak hy ekstra tyd. Geleentheid vir intense gebed bo en behalwe sy gewone, daaglikse gebed.
ii) Daniël bid eerbiedig
Dis nie ’n ‘Liewe Jesus’ gebed nie. Daniël kom op intieme wyse, tog met respek en eerbied in gebed na die Vader. Hy vergeet nie Wie dit is met Wie hy praat nie! Net soos die Psalms. En net soos die HERE Jesus met Sy Vader.
O Geliefdes, hoeveel keer vergeet ons dit nie in gebed nie! As jy onder die diepe indruk is van Wie Hy is tot wie jy in gebed nader, sal jy dink wat jy vra.
Daniël weet met Wie hy praat:
V4 Ag HERE, grote en gedugte God
iii) Daniël bid boetvaardig (met berou, skuldbelydenis)
Dit kom sekerlik die sterkste deur in sy gebed.
Dis die gebed van ’n nederige man wat die gedugte God in gebed nader. En Daniël is oorweldig met sy sondebesef. Hy kan homself nie losmaak van die sonde van sy volk nie.
- V5 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete wat in U Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.
- V11 Maar die hele Israel het U wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na U stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses...
Daniël bid met ’n sondebesef..
Maar Daniël kom ook met vrymoedigheid
iv) Daniël bid t.w.v. die eer van God
Die vyfde wat ons wil raaksien, is dat God se eer vir Daniël voorop staan. Die motief van sy gebed.
Hoekom vra hy ten diepste vir die beëindiging van die ballingskap, die terugkeer?
Ons kry dit in vers 16 en 17:
- Daniël bid om vergifnis, want... om ons... sondes ontwil is Jeusalem en u volk ’n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.
- V17 Hoor dan nou. Onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.
- V18 aanskou die verwoeste plekke waaroor U Naam uitgeroep is
- V19 Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want U Naam is oor u stad en U volk uitgeroep!
Sien u die motief van Daniël se hart? Dis nie smoothtalk nie. Dis nie dat hy die Here probeer beïnvloed nie. DIT IS SY HART SE DIEPSTE WENS. Dat God verheerlik mag word. Dis die opregte begeerte van Daniël. Dat die ballingskap beëindig word sodat God verheerlik kan word!
En die vraag aan jou en my: is dit hoe ons bid?
Ook toe Moses by Kades Barnea bid dat die HERE sy volk sal vergewe. Hoekom? Num 14.
Num 14:13 Toe het Moses aan die HERE gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het
Num 14:14 en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, HERE, in die midde van hierdie volk is; dat U, HERE, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in ‘n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in ‘n vuurkolom by nag.
Num 14:15 As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê:
Num 14:16 Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ‘n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.
Moses bid vir sy volk se vergifnis, t.w.v. die eer van God!
Is dit die motief van ons gebede hier in die erediens? Is dit die motief van jou persoonlike gebede?
Dit was ook Paulus se motief vir sy gebede:
- Paulus bid klomp dinge vir die gemeente van Efese. Doel? 1:12 Dat ons kan wees tot lof van Sy heerlikheid... Refrein in Efesiërs.
- Kol. 1:9 ev. Vra Paulus dat die gemeente vervul mag word met kennis van SY wil in alle wysheid en geestelike insig. Hoekom? Sodat die gemeente ‘waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag’
Is dit die motief van ons gebede?
Hoor wat sê Jakobus:
- 4:2 julle het nie, omdat julle nie bid nie.
- V3 julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
Selfsugtige gebed stel nie God se eer voorop nie.
Daniël se gebed gaan nie oor sy eie heimwee nie. Dit gaan oor die eer van God onder die nasies!
v) Daniël bid met vrymoedigheid
Al is Daniël so intens bewus van die sonde, keer dit hom nie om te nader nie.
Daniël weet dat God regverdig is. Dat Hy in sy heiligheid die sonde nie oorsien nie. Maar, Daniël weet ook baie goed dat God barmhartig is. En daarom kom hy met vrymoedigheid:
- V9 By die HERE onse God is Barmhartigheid en vergewing
- V13 Al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.
- V15 Nou dan, o Here onse God wat U volk uit Egipteland met ’n steke hand uitgelei hen vir U ’n Naam gemaak het, soos dit vandag is...
- V18 Neig U oor, my God en hoor, ... want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. HERE, hoor! HERE, vergeef!
Ons nader God nie op grond van ons goedheid nie, maar op grond van SY goedheid. Nie omdat ons goed is nie, maar omdat U goed is!
Hy is deur Jesus Christus, ons hemelse Vader. Ons het ’n Vader in die hemel wat vir sy kinders wil en kan gee wanneer ons vra!
Die rede waarom hy met vrymoedigheid kan bid
Die gronde van Daniël se vrymoedigheid, is die grote barmhartigheid van die Here.
Daniël het dit geweet.
Ons weet dit ook. Vir ons, is dit net baie duideliker geopenbaar.
Want God se barmhartigheid skyn vir ons helder en duidelik deur die koms van Sy Seun.
Daniël se gebed is onmiddellik beantwoord deur ’n boodskap van engel Gabriël, gestuur van God.
En Gabriël sou vir Daniël leer dat die 70 jaar nie alleen wys op die terugkeer uit ballingskap nie. Maar, dat veel meer inbegrepe is in die 70 jaar.
Die terugkeer uit ballingskap sou beteken dat die aardse Jerusalem weer opgebou word. Maar dit is met ’n doel.
V25 tot op ’n Gesalfde (met hoofletter), ’n Vors.
En daardie Vors, is Jesus Christus.
Hy sou dit wat skeiding maak tussen die sondaar en God, nl. Die sonde kom wegneem.
God se Barmhartigheid.
En Hy het gesterf aan die kruis. Sy bloed het gevloei. Sodat elkeen wat in Hom glo, se sondes vergewe word. Die skeidingsmuur tussen ons en God is afgebreek.
Die voorhangsel van die tempel is geskeur.
En daarom, verstaan ons nog baie beter as Daniël, waarom ons met vrymoedigheid kan bid.
Ons het Hebr. 7:14-16
... terwyl ons dan ’n Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, nl. Jesus die Seun van God... laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
O geliefdes,
Laat ons leer uit Daniël se gebed.
Laat ons:
i) Daniël bid ernstig
ii) Daniël bid eerbiedig
iii) Daniël bid boetvaardig (met berou, skuldbelydenis)
iv) Daniël bid t.w.v. die eer van God
Maar laat ons ook bid met vrymoedigheid.
Omdat ons ’n Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God.
Amen
Comments